Stemme uit stil straatjies: Hoekom ons nie ons oumas en oupas mag vergeet nie

Dis maklik om verby ‘n stil huisie te ry – een met ‘n skewe hek, ‘n dowwe voordeurmat en ‘n roostuin wat lanklaas liefde gesien het. Dis maklik om te dink daar gebeur nie veel daar binne nie. Maar agter daardie stil voordeur sit ‘n mens met ‘n storie – ‘n lewe wat geleef is, ‘n nalatenskap van opoffering, werk, liefde en gemeenskapsbetrokkenheid.

Daar woon ‘n ouma wat jare lank haar hande moeg gebak het vir basaartafels, koekverkopings en kerkkermisse. Daar is ‘n oupa wat motors reggemaak het vir jong gesinne in die buurt of wat sy kennis op die plaas met ander gedeel het. Daardie mense – die ouer garde – wás eens die hartklop van hul gemeenskap. Hulle was die stil krag agter vele gesinne. Ongelukkig is baie van hulle deesdae afgesonder. Alleen. Afhanklik van ‘n klein maandelikse SASSA-toelae wat skaars genoeg is vir die basiese lewensbehoeftes.

Die realiteit is dat te veel van ons bejaardes in stilte leef – nie net in fisiese afsondering nie, maar ook in die vergetelheid. Die wêreld beweeg aan: kinders verhuis, bure verander, en die lewenswyse van vroeër is al lankal iets van die verlede. Maar as ons regtig eerlik is, is hierdie mense die fondament waarop ons vandag nog bou. En hulle verdien beter as verwaarlosing.

‘n Gemeenskap sonder bejaardes is ‘n gemeenskap sonder wortels.

Ouer mense het wysheid, geduld en perspektief – dinge wat in ‘n vinnige, digitale wêreld maklik verlore gaan. Wanneer ons ons bejaardes agterlaat, verloor ons iets van ons menswees, van ons geskiedenis, en van ons gemeenskap se identiteit.

Solidariteit Helpende Hand Pretoria-Oos glo dat dit nie genoeg is om net op spesiale dae aan ons bejaardes te dink nie. Ja, Moedersdag en Vadersdag is wonderlik, en ons vier graag daardie oomblikke. Maar ware ondersteuning is volhoubaar. Dis daardie gereelde besoek en warm bord kos, die wete en gevoel dat jy nie alleen is nie.

Daarom reik ons elke dag uit, nie net op Kersdag nie.

Ons span en vrywilligers is elke week besig met verskeie projekte wat daarop gemik is om ons bejaardes se lewenskwaliteit te verbeter, veral dié wat geen ondersteuning of gesinsbande meer het nie. Ons glo in praktiese omgee en hulp van hart tot hart.

Ons projekte vir bejaardes sluit onder meer die volgende in:

  • Kospakkies en basiese noodondersteuning: Ons voorsien gereeld kos, toiletware en basiese huishoudelike items aan bejaardes wat sukkel om die maand deur te kom.
  • Kuierdae, speletjiesessies en geselskap: Ons bring lig in donker dae – ‘n bietjie lag, ‘n koppie tee, ‘n paar stories oor “toe ons nog jonk was”.
  • Persoonlike geskenkies en bederf-pakkies: Spesiaal saamgestel om ‘n bejaarde se dag op te kikker en te wys: “Iemand dink aan jou.”
  • Betrokkenheid by ouetehuise en enkel-inwoners: Ons bring menslikheid terug in kamers wat te lank stil was.

Hierdie projekte is moontlik danksy gewone mense soos jy wat hul tyd, energie en/of finansiële bydraes gee om ‘n verskil te maak. ‘n Mens hoef nie ‘n groot beursie te hê om ‘n groot impak te maak nie. Soms is die grootste geskenk net tyd en aandag.

Die krag van ‘n eenvoudige besoek

Een van ons vrywilligers het onlangs vertel van haar besoek aan ‘n ouma wat al jare in dieselfde woonstel bly. “Ek het haar net gevra om vir my ‘n storie oor haar kinderdae te vertel,” sê sy. “Vir die volgende uur het sy net gepraat – haar gesig het begin straal. Aan die einde het sy my hand vasgehou en gesê: ‘Dis die eerste keer in weke dat ek regtig met iemand gepraat het.'”

Dít is die impak. Nie statistiek of papierwerk nie, maar die diepe, menslike verbintenis wat elke siel verdien.

Kom vat hande met ons. Ons nooi jou uit – ja, vir jou – om deel te wees van hierdie beweging van menswaardigheid. Daar is soveel maniere om betrokke te raak:

  • Word ‘n vrywilliger vir kuierdae of geskenkaflewerings.
  • Ondersteun ons met donasies – groot of klein – elke bietjie help.
  • Sluit by jou kerk, organisasie of besigheid aan om saam ‘n verskil te maak.

Wanneer ons vir ons bejaardes sorg, bou ons aan ‘n gemeenskap met ‘n hart. Kom help ons om weer lewenslig in daardie stil straatjies aan te steek.

Kontak Tania Hoon ([email protected]) vandag nog om uit te vind hoe jy kan betrokke raak. Want niemand behoort hul laaste jare alleen te leef nie.